Buite voor die Deur (2007)

"‘n Man kom terug van die oorlog. Hy was lank weg, die man. Baie lank. Miskien te lank... en hy kom totaal anders terug as toe hy weg is..."

Die inspirasie van hierdie toneelstuk stam uit 'n Nederlandse produksie van Toneelgroep de Appel en is gebasseer op die 1947 verhoogteks van Wolfgang Borchert, Draußen vor der Tür (Buite voor die Deur).

Regie en vertaling: Gideon van Eeden

Met: Nicole Holm, Marko van der Colff, Marco Golz, Chris Gxalaba, Geon Nel en Jűrgen van Nell.

“Waar is ons nou eintlik? By the way? Berlyn? Boksburg, Belhar of Baghdad?”
In hierdie buitengewone "komedie" terg karakters uit alle oorde met die wrede realiteite van na-konflikse wêrelde. Die regisseur het 'n Brechtiaanse aanslag ingeneem om 'n parallel te trek tussen na-Oorlogse Duitsland en na-Apartheid Suid-Afrika, maar die globale ooreenstemming met gebiede wat deur geweld geteister is form die konseptuele basis van hierdie verhoogstuk.

Dit is die verhaal van Beckmann, 'n Duitse soldaat wat terug keer na sy geboorteland na die oorlog om te uit te vind dat die wêreld dramaties verander het toe hy weg was. Die spelers het om die beurt die rol van Beckmann vertolk om die universaliteit van die konsep te ondersteun. ‘n Ou Beckmann, ‘n paar jong Beckmanns en ‘n swart Beckmann. Nicole het al die damesrolle vertolk. Die simbool waarmee Beckmann aangedui word was onder andere 'n gasmaskerbril wat tussen die spelers rond beweeg. Die bril dien dan nie net as duidelike teken vir wie op daardie oomblik Beckmann was nie maar ook as simbool vir wie die ‘verandwoordelikheid’ dra, blaam, verwerping en verlatenheid.

Dit was 'n teaterervaring waarin eienaarskap op ons emosies gekortwiek was deur die paralel met die emosies van ander volke en bevolkingsgroepe. Hierdie produksie was op die hooffees van KKNK 2007. Na hierdie speelvak was Marko van der Colff vervang met Johan Nel en Chris Gxalaba met Riaan Visman en het die produksie ook gespeel by die Innibosfees van 2007 en die Klein Libertas Teater.