Wetters (2004)

Hulle is laat. Hulle is kwaad. Hoe later, hoe kwater.
Vier spelers, 18 karakters, een snelweg.
Padwoede heers.
Apokaliptiese fisieke teater. 'n Donker satire.

Teks: Schalk Schoombie    
Regie: Gideon van Eeden
Rolverdeling: Jan Ellis, Barbara-Marie Venter, Botha Enslin, Henk Pretorius, Werner Dippenaar.

Dirkie Smit is kort van draad. Hy neem dinge persoonlik, veral as iemand voor hom inry. Jo-Ann MacArthur haat mans, soos die chauvinistiese Afrikaanse verkeersman Bart de Wet, wat vermakerig sy tyd vat om haar te beboet.
Louis le Roux, die TV-storieverteller, se stories raak skielik op. Decibel Visagie verkoop dwelms, Abdul Rahman al Rasheed vervoer fietse, Marie-Christlee Vosloo en Jaco Degenaar vind uit hulle is soulmates, Ewan Rutherford ontleed ekonomiese risiko, en Pastoor Sampie Bredenkamp kry vreesaanjaende visioene op die snelweg.
En wie is die gevreesde Wreker, die padwoede-reeksmoordenaar?
Hulle buig die wet, breek die wet, maak hul eie wette op die slagpaaie. Hulle ding mee, vloek mekaar, veg om oorlewing. Hulle paaie kruis plofbaar en knoop in die dreigende wolkbreuk.


Wetters was 'n fisieke teaterstuk vol galgehumor vir vier vreeslose spelers en 'n rockmusikant wat die klanke van verkeersknope, storms en ongelukke naboots. 'n Swart satire oor die lewe in die vinnige baan en die oorlewing van die snelste. 

Hierdie produksie was 'n finalis in die Nagtegaal teksskryf kompetisie in 2003 en in 2004 gemaak in opdrag van die KKNK.